Olywe

Dis nou al 2 jaar wat ek self olywe inlê en die moeilikste deel daarvan is om vars olywe te kry. Verlede jaar het ek 5 liter olywe bestel en dit was in n oogwink opgeëet. Vanjaar het ek 10 liter Mission olywe bestel waarvoor ek R450 betaal het.
Resep
My vriendin, Soekie kruger het ingestem dat ek haar resep hier kan publiseer. Dankie Soekie!
Gebruik gesonde ryp, swart Mission, Kalamat of Manzilla olywe. Dit moenie sag of oorryp wees nie.

Sny elke olywe in die lengte aan beide kante versigtig met n skerp messie, oop. Plaas die olywe in n geskikte houer en bedek met water. Ek het 2 x 10 liter plastiek emmers met deksels gebruik. Verander die water 1 x per dag. (Ek het myne sommer in die oggend geruil waneer ek wag vir die ketel om te kook).
Hou aan vir 4-5 weke. Deur die proses verloor die olywe hulle bitterheid. Hierdie proses kan verleng of verkort word afhangende van jou persoonlike voorkeur vir bitterheid. (Myne was teen 3 weke nie meer bitter nie).
Maak n soutoplossing van 500gr sout per 5 liter warm water. Waneer afgekoel is, vervang die gewone water met die kamertemperatuur soutoplossing en week die olywe vir n week daarin. Proe weer, indien nog te bitter, maak n nuwe soutoplossing en laat vir nog n week daarin. Vervang die pekelwater n paar keer met vars water en plaas dan vir ongeveer n dag in huishoudelike bruin asyn.

Gooi die asyn af en stel die olywe vir n paar uur aan lug bloot voordat hulle gebottel word (die asyn kan weer gebruik word). Pak die olywe in skoon gesteriliseerde glasbottels.

Berei die finale pekel deur 300gr kombuissout in 4.5 liter water te kook. Voeg 250ml asyn van jou keuse by bv rooiwynasyn, balsamiekasyn of gewone bruinasyn by die kokende pekel. Knoffel, stukkies suurlemoenskil, paar peperkorrels, origanum of roosmaryn kan ook by die pekel gevoeg word. (Hierdie jaar proe die olywe vir my meer sout, volgende jaar sal ek die sout waarskynlik verminder na 200gr).
Vul die flesse en gooi n lepel sonneblom- of olyfolie bo-op. Verseel.

Die olywe kan na n week geëet word.
Uit die eerste 5 liter olywe het ek 12 x 500ml Consol bottels gevul.
Uit die 2de 5 liter olywe het ek 1 x 500ml Consol bottel, 9 x heuning bottels en 5 x 250ml Consol bottels gevul. Dit het maar raap en skraap gegaan vir bottels tydens die COVID19 inperking gedurende April 2020.