Maak jou eie yoghurt

Daar is baie maniere om yoghurt te maak. Hierdie een werk vir my.

Ek gebruik n vlekvrye staal kastrol, n “candy” termometer, draad klitser, n glas beker en 4 x 500ml consol bottels met deksels.
Resep:
2 liter melk
125ml natuurlike yoghurt (half koppie)
2 eetlepels melkpoeier
Metode:
- Steriliseer alles voor jy begin.
- Gooi melk in kastrol en voeg melkpoeier by, meng goed met n draad klitser (whisk). Die melkpoeier gee n dikker yoghurt.
- Verhit tot 90 grade Celsius, ek roer gereeld sodat die melk nie aanbrand nie.
- Haal van plaat af en sit nou kastrol in wasbak met koue water.
- Koel af tot 45 grade celsius, haal uit wasbak, voeg yoghurt by, meng baie goed.
- Ek gooi nou melk in glasbeker net omdat dit makliker in die flesse in skink. Maak flesse vol en draai deksels op.
- Plaas flesse in koelsak met 2 liter bottel vol warm kraanwater.
- Vou handdoek of fleece kombersie oor , maak koelsak toe en los die yoghurt om hulle eie ding te doen, moenie aan die bottels skud of oopmaak nie.
- Laat staan oornag of vir 12 ure.
- Waneer ek my koelsak die volgende oggend oop maak is die water in die plastiek bottel gewoonlik nog lou warm. Plaas in yskas en geniet.
- Jy kan n half koppie van die yoghurt gebruik om jou nuwe yoghurt te maak.
Notas:
Gebruik natuurlike yoghurt met “live cultures”, sonder enige preserveermiddels of gelatine. Ek gebruik gewoonlik Gero of yoghurt van Woolies.
Jy kan die yoghurt geur met heuning, stroop, Nesquick – my kinders hou van die aarbei een of ingelegde vrugte. Jy kan nie vars vrugte gebruik indien jy dit wil bêre nie, gebruik dit dadelik met vars vrugte.